Tuesday, June 29, 2021

Is mnr Pretorius (nog) 'n Christen?

'n Christen is 'n volgeling van Jesus Christus. Hier is die definisie volgens Wikipedia (verkort). Ek weet Wikipedia is nie die betroubaarste bron nie, maar in hierdie geval gee dit tog 'n goeie beskrywing.

Christianity is an Abrahamic monotheistic religion based on the life and teachings of Jesus of Nazareth. Its adherents believe that Jesus is the Son of God, whose coming as the messiah was prophesied in the Hebrew Bible...

Mnr Pretorius het dit baie duidelik gemaak dat hy:
  • nie die Evangelie van Jesus glo nie, maar dit die “Evangelie van Paulus” genoem,
  • nie glo dat die dorp Nasaret het regtig in daardie tyd bestaan nie,
  • nie glo dat Jesus die Seun van God is nie,
  • nie glo dat Jesus aan die kruis gesterf het nie,
  • nie glo dat Jesus self terug kom en dus die Messias of Redder self is nie.

Ekself sou nog 'n belangrike punt by sit. Christene glo dat Jesus kom terug om te oordeel, die wat nog lewe, en die wat reeds dood is. Mnr Pretorius sê dat hy nie glo God kom om ons te oordeel nie. Dat ons “rustig” kan wees daaroor, volgens hom. Hy het dus alle vrees vir God verloor, terwyl God dit duidelik gemaak het dis die begin van wysheid, om Hom te vrees.

Mnr Pretorius se geloof voldoen dus, volgens my opinie, geensins meer aan die basiese vereistes om as Christenskap geklassifiseer te word nie.

Dit is sy volle reg om te glo wat hy wil. Dis ook sy volle reg om wat hy glo, aan ander te probeer leer of “openbaar” maak.

Dis egter nie sy reg om 'n bestaande geloof se naam aan te neem, of aan te hou gebruik, indien hy nie meer die basiese fondamente van die geloof aanhang nie. Dis misleiding. En wanneer daar openlik vir amper 20 jaar vir my mense gejok word, voel ek verplig om dit aan te spreek.

Ek het nogals die afgelope 5 jaar HEELWAT gnostiese aanhangers, Esseniërs, en “New Agers” raakgeloop op Youtube en my studies, wat dieselfde doen. Hulle noem hulself Christene, maar wanneer hulle oor Jesus begin praat en wat hulle glo oor Hom, kom dit duidelik na vore dat hulle Hom nie werklik volg nie, en dus nie 'n Christen is nie. Meeste van hulle glo gewoonlik Jesus was 'n “ascended master” (verligte of illumined one) soos Buddha, Ghandi en St Germaine. Dat hy dus op dieselfde vlak as hulle was, wat as “siel” sover gevorderd was (gewoonlik deur 'n aantal lewens te lei op aarde), dat hy “ekstra inligting” gegee is.

Nes mnr Pretorius, glo hulle gewoonlik dus ook nie dat Jesus die Seun van God was of is nie, of gaan terug kom as Redder en om te oordeel nie. Hulle praat gereeld van hoe ons meer soos “Jesus” moet wees, en dat ons almal “Christus in ons” het. Dit noem hulle ook die “global consciousness” en die “Greak Awakening”. Waar die mensdom dieselfde vlak as “Jesus” moet bereik, dus verlig, om die 5de dimensie te begin. Maar hulle glo nie werklik in die “Jesus” van die Bybel nie. Hy's volgens hulle net 'n mens gewees, niks meer nie. Paulus het gesê hulle glo 'n “ander Jesus”.

Dis maar baie dieselfde as wat nog al die eeue onder die naam van “Christenskap” gebeur het. Mense verklaar hulle is Christene, wanneer hulle nie werklik is nie, soos ook veral gedryf deur die Roomse kerke, en ander geheime groepe, organisasies, koninkryke, ens. Asook soos hier in Suid Afrika, waar 70% mense op 'n sensus vorm die boksie “tick” vir “Christen” by Geloof, maar in werklikheid aanbid hulle die voorvaders (ook).

Daarom het God ons verplig om die “gees” en “vrugte” van mense te toets. Volgens die vergelyking van die 10 maagde, gaan slegs helfte van mense wat DINK hulle gaan in die Koninkryk ingaan, wel ingaan. Die res gaan tegnies met hulle broeke op hul knieë gevang word. Hoe hartseer!

Heelwat mense wat dus 'n “God” aanbid, en hom so noem, gaan vind dat die Lewende God dit werklik bedoel het toe Hy gesê het dat sonder die Seun, gaan niemand die Koninkryk ingaan nie. As jy nie die Seun het nie, het jy ook nie die Vader nie. En om die Seun te hê, moet jy Hom glo. Dus, die hele “Hy” glo. Dws, die Woord wat vlees geword het, glo. Die Woord IS Jesus. Glo die hele Woord, dan het jy die Seun en die Ewige Lewe saam met Hom in die Koninkryk.

Ter wille van deursigtigheid, gaan ek dus hier my geloof bely, sodat almal presies kan weet waar hulle met my staan, en daar geen twyfel of misleiding of misverstande sal wees van wat ek glo nie. As jy dus nie saamstem nie, kan jy hierna ophou om my skrywe te lees. Ek het geen begeerte om enige iemand te mislei nie, want ek gaan ook voor Jesus Christus staan op die oordeelsdag, nes elke liewe ander persoon, en verantwoording doen vir wat ek verkondig het.

Ek glo daar is slegs EEN Lewende God. Sy naam is “Ek is wat ek is” en is in ons volksmond as “Jesus” bekend. YHWH is Yahweh, wat ook Yehushua is, wat as “Jesus” in my Bybel se Nuwe Testament bekend is, omdat dit oorspronklik in Grieks neergepen was. (Later meer hieroor.) YHWH is dus Jesus (ook, want Vader en Seun is een). Wat jy Hom noem is jou saak, ek bely hier MY geloof, MY opinie.

Ek glo dat Jesus die Woord is wat vlees geword het.
Ek glo daar is SLEGS een weg na die Ewige Lewe in die Koninkryk van God en dit is deur Jesus Christus. Deur Sy Woord te glo en te volg so goed ons kan.
Ek glo daar is slegs een Verlosser, en dit is Jesus Christus. En dat Hy self, persoonlik, weer terug gaan kom om ons te red, en almal te oordeel volgens hulle dade.
Ek glo dat Jesus as mensekind gebore is uit die maagd Maria, wat aan die kruis opgehang is, en gesterf het (aan die kruis). Wat op die 3de dag weer opgestaan het uit die dood, as die Seun van God, en weke later opgevaar het na die Hemel.
Ek glo die Woord is onfeilbaar, onveranderd, lewend en deur die Gees geinspireer.
Ek glo dus dat geen mens of kerkgroep of organisasie of Satan self, sterker is as God nie, of meer mag as God oor Sy Woord het of ooit uitgeoefen het nie. Dat God nog altyd wag hou oor Sy Woord, en dit deur verskeie vertalings aan ons bekend gemaak het.

Die vertalings was om te illustreer hoeveel vlakke en diepte daar in Sy Woord is, en Sy Kinders uniek aan te spreek in hul eie taal, en op die vlak waarop hul geloof of groei in Hom is. Dat geen organisasie of een persoon uit hul eie besluit het wat in Sy Woord staan of ingesluit was nie. Dat dit als deur Hom geinspireer was, vir elke Kerkgroep van Hom, al is dit verskillend. Vir verskillende dele van Sy Liggaam. Ek glo niemand kon die Woord ooit manipuleer sonder God se eksplisiete Wil vir 'n spesifieke doel nie. Dat dit presies sê wat God wil hê dit moet sê aan wie Hy wil hê dit moet iets sê.

Ek glo God en neem Hom op Sy Woord:
  • As Hy sê Hy is Almagtig, dan IS Hy ALmagtig.
  • As Hy sê Hy is die ENIGSTE Lewende God, dan IS Hy die enigste lewende God,
  • As Hy sê die Woord is Onfeilbaar, dan IS dit onfeilbaar.
  • As Hy sê die Woord is geinspireer deur die Gees, dan is dit.
  • As Hy sê die Woord is SYNE, dan is dit.
  • As Hy sê die Woord is Jesus wat lewend geword het, dan is dit.
  • As Hy sê die Woord is Onveranderd, dan is dit.
  • As Hy sê die Woord is vas, dan is dit.
  • As Hy sê die Woord is Lewend, dan is dit.
  • As Hy sê Hy waak oor die Woord, dan doen Hy.

Ek het dus 'n onwrikbare, onveranderbare geloof in die Bybel. Niks of niemand sal my ooit andersins kan oortuig nie. Ek glo al my hele lewe deur. 

Beteken dit ek verstaan als in die Woord? Nee!! Geensins. Soms is dit baie, baie moeilik om die interpretasies te glo wat Hy al aan my geopenbaar het, want dis soveel groter as wat ons ooit kon droom. Dit is dus nooit ooit 'n maklike proses nie. Maar ek val altyd terug na daardie geloof: EK GLO. Ek glo God. Ek glo Sy Woord. So kom ons probeer verstaan. Kom ons probeer insien. Maar nooit val ek weg en dink die Bybel is foutief in ENIGE opsig nie. Ek kan verkeerd hoor of verstaan, profete in vandag se tyd kan verkeerd wees of verkeerd hoor, of dominees of kerke kan verkeerd wees. Die hele wereld kan verkeerd wees. Maar die Bybel is nooit, ooit verkeerd nie. DIS hoe en wat ek glo.

Ek sê nie hiermee hoe almal moet glo, of wat nie. Dis elkeen se eie besluit. Ek sit net hierdie uiteen, sodat mense kan verstaan wat ek, persoonlik, glo. Daarvolgens kan elkeen dan gemaklik oordeel of hierdie blog vir hulle is of nie, sonder enige misleiding van my kant af oor wat ek glo.

Nou, Jesus het aan ons 'n BAIE ernstige waarskuwing nagelaat oor die groot afvalligheid, in Matteus 18:

6 “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”

En dit is die rede hoekom ek hierdie moeilike skrywe doen. Want presies dit wat mnr Pretorius glo, is intussen deur verskeie profete gewaarsku, IS die groot afvalligheid wat oor die mensdom gaan kom. So deur wat mnr Pretorius op sy blog vertel, gaan hy homself skuldig maak aan daardie versie, indien enige persoon afvallig raak as gevolg van wat hulle by hom leer. Dit maak my koud en bang tot in my siel, tot in die diepste van my wese. 

Mnr Pretorius is 'n bekende skrywer, en ek weet van tienduisende mense wat hom “volg”. Ons is 'n klein volkie en ek wil nie graag dat selfs een Kind van God afvallig word hieroor nie (God het na klein kindertjies verwys, maar die dieper vlak was ook grootmense, wat Hy soms "klein kindertjies" ook noem). En daarom skryf ek hierdie. God het my verseker dat Hy sal sorg dat die wat dit nodig het om te lees, wel hier sal uitkom.

Volgende, meer oor Nibiru.

No comments:

Post a Comment