Tuesday, June 22, 2021

Geloof in die Bybel, en meer oor YHWH

 
Mnr Pretorius vra die volgende vraag (en antwoord dit dan). Ek sal graag ook my opinie hieroor wil gee aan my lesers.

(c) Wat van die Bybel (Nuwe Testament) is dan waar en eg?”

Ek gaan nie alles wat mnr Pretorius antwoord, hier in trek nie. Ek sal net 'n vinnige opsomming van party van sy punte maak, sodat die wat nie die artikel volledig gelees het nie, kan weet waarvan ek praat.

Hy noem die volgende, en ek parafraseer, so ek hoop ek het reg verstaan met wat hy bedoel en gesê het. Indien nie, vra ek verskoning.

  • Hy beskou baie dinge in en rondom die Bybel as bedrog.
  • Hy beweer Nasaret die dorpie, het nog nie bestaan in Jesus se tyd nie.
  • Hy beweer die maagdelike geboorte was 'n leuen.
  • Hy glo Jesus was in die herberg gebore, nie in 'n stal nie.
  • Hy glo hoe Lasarus se opwekking uit die dood beskryf word in die Bybel, is onwaar, dat Lasarus nie al geruik het nie en hy en Jesus het 'n gesprek gevoer terwyl Lasarus nog in die grafkamer was en Jesus buite was.
  • Hy glo dis leuens dat twee rowers/moordenaars aan weerskante van Jesus gekruisig is.
  • Hy glo nie Petrus het die “sleutels van die Koninkryk” ontvang nie, en dus nie die “kerk” begin nie. Hy glo die “kerk” is eers 250 jaar later gestig.
  • Hy glo die Evangelie is nie werklik die Evangelie van Jesus Christus nie, maar eerder die “Evangelie van Paulus”.
  • Hy glo Paulus, of sy naam, was verantwoordelik vir die grootste deel van die gelowiges se “probleem” oor die eeue.
  • Hy glo dat een van Paulus se grootste afwykings was dat hy “Jesus se aandrang op gehoorsaamheid aan die Wet verander en verliberaliseer het na die sogenaamde Verbond van die Genade”.

Die laaste punt, veral die minagtende woorde: "sogenaamde Verbond van die Genade", laat my onwillekeurig aan Hebreers 10 dink:

29 Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?

'n Mens kan net sidder.

So nou wil ek graag ook die vraag antwoord, en dan my antwoord verduidelik.

(c) Wat van die Bybel (Nuwe Testament) is dan waar en eg?”

ALS.

Dit is waar geloof inkom. Die wat glo, en die wat nie werklik glo nie. Die wat glo, glo dat God redes gehad het, vir sekere dinge wat vir ons moeilik verstaanbaar of selfs onverskoonbaar in ons oë is, in die Bybel. Of teenstrydighede waarop verskillende doktrines of selfs kerkgroepe dan later ontstaan.

Die wat glo, glo dis waar en eg en van God af, maar dat ons net (nog nie) als verstaan nie.

Kom ek gee 'n BAIE eenvoudige verduideliking.

In Jesaia 43 staan:
4 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

As kind is ons geleer dit het oor Jesus gegaan, maar ook oor Sy Volgelinge (as Sy Liggaam, wat Hom volg). Dan het ons dit gelees as: “God gaan nasies in ruil vir ons lewens” gee. En elke keer het ek teruggedeins en gesê nee dankie, ek wil nie hê mense of nasies moet sterf vir my om te kan lewe nie!

Meeste mense, sekerlik nie almal nie, sou dit so lees: God “offer” mense en nasies op, in ruil vir 'n Kind van Hom. Maar dis nie wat bedoel was daarmee nie!

Dis ONS wat sterf. Sodat nasies gered kan word. Mense gered kan word. God offer Sy Kind(ers) se lewens op aarde op, om nasies of ander mense mee te red. Jesus se dood het die nasies gered. Ons dood kan dalk iemand red wat sien hoe ons tot die einde aanhou glo en daardeur mense inspireer om meer van Jesus te leer en so tot die geloof te kom.

So omdat God ons kosbaar ag, eer Hy ons deur dit toe laat. Want daar is 'n geheim aan verbonde, as jy sterf as 'n “diens” aan Hom. Soos Jesus gesê het. Niemand het groter liefde as dit... dat hy sy lewe vir sy vriende gee. En ook dat liefde 'n magdom sonde bedek! Daarom is sulke martelaars dan ook verseker van 'n plekkie in Sy Koninkryk.

My punt illustreer dat ons 'n versie op een manier kan lees.... volke gaan sterf.
Wanneer dit presies die teenoorgestelde beteken. Volke gaan gered word!

Ons kan 'n versie dus totaal en al verkeerd verstaan, of interpreteer. Dit beteken NIE die versie is verkeerd of hoort nie in die Bybel of is bedrog nie. So wanneer ons iets teëkom in die Bybel wat ons laat wonder.... dan moet ons GLO. Glo dat God 'n rede gehad het. Glo dat God se planne goed is. En glo dat God nie jok nie, ons verstaan net nie wat dit presies beteken nie! En Hy sal wel mettertyd als openbaar maak. Maar ons gaan baie, baie geduldig moet wees. Daarom.... ons glo wat ons nie kan sien nie, ons hoop op wat nog kom. Maar verloor nie vertroue in God of Sy Woord nie! En laat ons nie so maklik mislei deur goddelose mense se idees en denke en woorde nie!

Baie van mnr Pretorius se probleme met die Evangelie en die Bybel is presies dieselfde probleem! Hy besef werklik net nie wat dit als beteken nie. 
Byvoorbeeld die feit dat daar 4 Evangelies is. Hy weet nie hoekom nie!

Dis oor die 4 kante van die volk Israel. Dis vir die 144 000 mense, wat opgedeel is in 12 000 van elk van die 12 stamme van Israel. Drie aan elke kant. Dus, 36 000 uit die Suide, 36 000 uit die Noorde, 36 000 uit die Weste en ook 36 000 uit die Ooste.

Elke Evangelie is 'n prototipe (die woord wat mnr Pretorius self gebruik het), vir wat hierdie 36 000 gaan beleef. Petrus was dus 'n “prototipe” vir 12 000 mense deur wie die Koninkryk begin gebou gaan word.

Het Petrus werklik geleef? Ja!

Het hy destyds al die sleutels ontvang en daardeur die “kerk” begin? Ja!

Die “kerk” is NIE die “Roomse kerk” of formele kerk wat begin was nie!! Die “kerk” was die byeenkoms van die Gelowiges!! Dit het in die Bo-kamer begin met die uitstorting van die Heilige Gees 10 dae na Jesus se opvaarding. Die "formele kerk" was later ja, en het voor- en nadele ingehou en was geannekseer deur die eeue en misbruik en gebruik. Maar Jesus se Kerk, is Sy Liggaam. Nie die organisasie "kerk" nie. En Petrus het die werklike Kerk begin bou in sy tyd.

En net soos daar 2 rerige tempels gebou was, word daar 2 geestelike kerke gebou. Die eerste geestelike kerk is gebou deur Jesus en die apostels. Petrus het die sleutel ontvang daarvoor. Die 2de gaan in ons tyd wees, wat als gaan herstel en herbou, soos in die ou dae se "Second Temple Period". Die Petrus-groep gaan die sleutels die keer kry en die kerk bou.

Die eerste 3 evangelies gaan oor die apostels wat gesterf het as martelare. Selfs die skrywers van die boeke het sover ek weet, gesterf as martelare. Dit was om volke en mense te ruil vir hul lewens. Die grootste eer, want niemand het groter liefde as dit nie. So ek glo Petrus het wel geleef, was 'n apostel, het die kerk help begin met die sleutels wat hy ontvang het, en het daarna as martelaar gesterf. Heel waarskynlik soos daar oor hom geskrywe is deur verskeie bronne. Dat hy onderste bo opgehang wou word aan 'n kruis.

Die 4de evangelie is Johannes s'n, wat as 'n ou man gesterf het, sover ons weet, aan natuurlike oorsake. En dit is omdat die 4de groep van 36 000, nie gaan sterf nie. Dis hulle van wie die Bybel praat, wat gaan oorbly, nog leef, teen die tyd dat Jesus terug kom.

Ek hoop hierdie maak als s'n en verduidelik hoekom die Evangelies soms so teenstrydig moes klink. Want dit was prototipes vir verskillende groepe met verskillende belewenisse aan die Einde van Tyd. Dit sê nie dit het nie regtig gebeur nie! Dit het. En dit IS inderdaad Jesus se Evangelie. Eers die Kop, Jesus, en daarna die "Liggaam". Almal saam IN Jesus Christus. Dit het destyds gebeur, en gaan weer herhaal op 'n baie, baie groter skaal wanneer die 144000 mense die “Boodskap” tot aan die uithoeke van die aarde gaan verkondig (uitstuur).

Ek gaan nog 'n paar voorbeelde noem, sodat mense kan verstaan hoekom ons versigtig moet wees om iets in die Bybel as “strooi” of “leuens” of “bedrog” af te maak. Een van die bekendste probleme vandag, is dat mense weier om 'n God te aanbid wat 'n hele volk wou uitwis in 'n “genocide”, die Kanaaniete.

Baie mense verwerp God in geheel hieroor. Ander, soos mnr Pretorius, gooi die probleemagtige hoofstukke bloot net uit die Bybel uit as “duidelik onwaar” en die storie van 'n “ander god”.

Nou. Die antwoord wat ek TOT DUSVER gekry het hieroor, sal ek hier beskryf. Ek sê tot dusver, want ek is ook gewys dat ek nog nie al die antwoorde daaroor gegee is nie. Daar is dus nog meer daar agter. Oor hoekom dit noodsaaklik was. Maar miskien sal dit help, dat mense kan begin verstaan.... God is nie onmenslik of wreed nie! Hy het gewoonlik baie, baie, baie goeie redes vir als wat Hy doen, en dis gewoonlik die beste of enigste oplossing.

Eerstens, hoekom moes die Israeliete die land afneem van die Kanaaniete?

Omdat God 'n regverdige God is. Die land het nooit aan die Kanaaniete behoort nie!

Dit was toegeken aan Noag se seun Shem, en sy nageslag. Nie Ham en sy nageslag, die Kanaaniete nie. Die Kanaaniete was dus diewe en onwettig op grond wat nooit hulle s'n was nie. Hulle het hul eie gebiedens gekry, maar wou ander “empires” in ander lande ook begin (klink bekend?).

God het dus in werklikheid dit net baie eeue later terug gegee aan die werklike eienaars. Netsoos Hy belowe het, ons sal ons Republieke eendag ook weer terugkry, wat onwettig by ons gesteel was.

Hoekom moes die al Kanaaniete, selfs die ou mense en babatjies, sterf? En selfs die diere en plante uitgewis word?

Wanneer 'n man en vrou trou en gemeenskap het, word hulle letterlik een vlees. God se Woord was weereens nie leuens nie. Die wetenskap het vandag bewys dat die vrou fisies die man se essensie opneem in haar liggaam en dit berg. Nie net tydelik om dalk te gebruik vir bevrugting nie, maar permanent. Sy neem die man se sperms en DNA op. Die sperms word na die eierstokke gestuur, maar die DNA word binne haar eie vlees gestoor (op maniere wat die wetenskap nog nie heeltemal verstaan nie).

Dink mooi oor die konsep. Elke man met wie 'n vrou gemeenskap het sonder beskerming, se DNA word in haar liggaam gestoor. Dit word deel van haar.
(Indien jy as vrou hier lees en jy was verkrag of het dom dinge aangevang, moenie bekommerd wees nie! God kan en gaan ALS vernuwe. Dis nie permanente skade vir gelowiges nie.)

Dis basies dieselfde beginsel as met honde. Die opregte teef mag nie met 'n “onreine” reuntjie wat nie opreg is, teel of bymekaarkom voor sy geteel word nie, want selfs as sy daarna met 'n opregte reuntjie 'n werpsel hondjies het, is hulle DNA nie meer perfek nie. Hulle erf by die tefie iets van die eerste reuntjie se gene OOK! So 'n opregte teef moet slegs met 'n opregte reuntjie teel, vir 'n opregte werpsel. Andersins, is die werpsel nie opreg nie.

Dit het iets met die mitochondriese DNA van die moeder te doen. 'n Kind erf 2 stelle DNA, een van sy pa en een van sy ma. Maar hy het ook 'n “gebergde” stel DNA, genoem die mitochondriese DNA wat hy slegs by die moeder oorerf, deurdat hy “mitochondria selletjies” by haar erf. Hierdie is die DNA wat groepe populasies van mekaar skei en hoe hulle kan vasstel watter bloedlyne kom van ooreenstemmende stamvaders af, die migrasie patrone van nasies en rasse, ens.

Mense het nie na God geluister nie (soos gewoonlik) en nie by een man en een vrou gebly nie. So het die kinders se DNA mettertyd verswak. Net soos opregte hondjies, was mense nie meer opreg daarna nie. Nie meer so “righteous” en perfek soos Adam se DNA geskape was nie. Dis een rede hoekom Jesaja sê niemand is meer regverdig (righteous) nie.

Erger nog, mense het genetiese eienskappe van families probeer bewaar deur ondertrouery, wat nog meer genetiese defekte veroorsaak het. Boeties en sussies het saam kinders gehad, en deesdae weet ons dit is een van die grootste redes vir DNA defekte! Het God se Woord nie daarteen gewaarsku nie?

Boonop het die mense toe nog 'n sonde begaan, en VERAL die Kanaaniete was bekend hiervoor. Hulle het mekaar begin eet! Net soos met die vrou tydens gemeenskap, het hulle hierdeur die DNA of genetiese stukkies van mense opgeneem. Letterlik. In hul liggame.

Die beginsel word die beste geillustreer deur die Fore Tribe van Papua New Guinea.

Sowat 120 jaar gelede het een van hulle 'n siekte soortgelyk aan “Mad Cow Disease” gekry, waarskynlik sporadiese Creutzfeldt–Jakob disease (CJD). Vermoedlik het die man 'n dier geëet wat dit gehad het en so self die siekte gekry in die vroeë 20ste eeu.

Toe hierdie persoon sterf aan die siekte (dit is 100% fataal!) het sy Tribe hom geëet, soos hulle gewoonte was. Hulle het geglo dis al hoe hulle die geeste kon “vrylaat” en die persoon kon “eer”. Hierdeur het hulle almal die defekte proteine (prions) opgeneem wat die man se dood veroorsaak het. Dit het toe in hul eie liggame gaan lê. En so het die Tribe se mense een na die ander 'n tipe “Mad Cow Disease” ontwikkel, genaamd Kuru. Veral kinders, omdat kinders as suiwer gesien was, en dus die brein gegee is om te eet, om die gees "vry te laat". Maar die meeste van die prions was juis in die brein.

Soos elkeen sterf, is hulle weer deur die Tribe geëet en is die gene net weer oorgedra aan die volgende geslag. Tot die Australiers die Tribe ontdek het middel van die 20ste eeu, diep in die berge. Na dekades se baklei en oorreeding en mediese hulp en smeking, is die praktyk van kannibalisme uiteindelik stop gesit einde van die 20ste eeu.

Die laaste van die aangetastes het onlangs gesterf. Toe ontdek die mediese wetenskap 'n wonderbaarlike ding. Die Fore tribe het nou 'n geen ontwikkel wat hulle die enigste groep mense op aarde maak wat “resistant” is teen hierdie tipe siektes! Dis 100% dodelik vir alle ander mense. Maar die Fore tribe is nou amper immuun. Die enigste mense op aarde wat 'n “mad cow” kan eet en waarskynlik nie die siekte sal ontwikkel nie.

So dit wat mense eet, het dus deur die dekades, in slegs 100 jaar, 'n permanente effek gehad op die gene van hul nageslag! Laat dit insink.

So rondom 1900 is die eerste persoon met die siekte geeet. En in 2009 het die laaste een van die kannibale gesterf. En in 2015 het hulle ontdek die nageslag van hierdie mense se DNA het letterlik verander as gevolg van die eet van hierdie een persoon 115 jaar tevore!

Dis hoekom God gewaarsku het teen kannibalisme en sulke praktyke!!

Netso het die Kanaaniete destyds toe ook vreeslike siektes en veranderinge in hul DNA so aan mekaar oorgedra deur die eeue wat hulle in daardie area gebly het. En dit het so erg geword, dat God gesê het, wis als uit. Want selfs die diere en natuurlewe om hulle was teen daardie tyd beinvloed. Die diere was aangetas, want die Kanaaniete het omgang met diere ook beoefen. En die diere het dit weer aan die plante oorgedra deur hul ontlasting, merk van territoriale gebiede en ander lewensprosesse. Dit was bykans in die kleine, 'n area wat weer presies dieselfde opgeëindig het, as die tyd reg voor die vloed. Toe God gesê het Hy moet die aarde self skoon was van al die sonde, so erg was dit. Sonde het werklike, fisiese oorsake op mense en diere se liggame, asook die natuur.

Ek kan my net indink met hoeveel pyn en probleme die Kanaanietiese kindertjies gebore was. Hoe swaar hulle lewens moes wees sonder hospitale en dokters en hulp. Sonder pyn medikasies en operasies. Watter verskriklike lewens het die Kanaaniete en hul kinders en diere nie begin ly nie? En God het geweet.... dit gaan net erger word, want hulle het geweier om die sondes te stop.

Was Hy dus bloeddorstig toe Hy uiteindelik gevra het dat die Kanaanietiese gene uitgewis moes word? Of genadig omdat Hy die gene wou laat uitsterf en keer dat kindertjies met soveel genetiese gebrekke in daardie dae gebore word?

Mense dink dis 'n goeie ding dat daar genetiese manipulasie kan plaasvind voor geboorte. Onvrugbare ouers word gehelp daardeur om kinders te kan hê.
 Kindertjies kan nou selfs “ontwerp” word om “perfek” gebore te word. Of die geslag kan “gekies” word.

Maar toe God dit gedoen het op die kru manier wat destyds vir mense beskikbaar was, dink mense Hy was wreedaardig en bloeddorstig! Nee. Hy het die mense vir hul sonde gestraf soos voor die vloed, die land gered deur dit te reining, en die nageslag se DNA probeer bewaar van hierdie aaklighede. Soos Tutenkamen wat maar 18 geword het, al sy babatjies voor of na geboorte verloor het, en self op 18 gesterf het, agv die Egiptenare se ondertrouery. Is dit wat die mensdom eerder sou wou sien vir al die Kanaaniete?

So beteken dit YHWH was 'n bloeddorstige God en eintlik Marduk soos mnr. Pretorius glo?

Nee. Dit beteken slegs dat ons verstaan net nie altyd HOEKOM God soms iets drasties moes doen om die mensdom te help nie. Netsoos met die vloed. Hy het die verval van die gene 'n groot hou toegedien daardeur. Sodat die verval stadiger sou gebeur. Hy het Noag en sy seuns gered, maar alle ander gene vernietig. En ek kan net dink, dis omdat dit in dieselfde toestand of erger was as die Kanaanietiese gene.

Tot Jesus gekom het, waarna dit nie meer saak gemaak het wat ons inneem by ons monde nie. Want Sy genetiese blueprint kon van toe af deur die vernuwing van die Gees, deursypel na ons liggame se DNA toe. Veral as ons Sy raad volg, en OPhou sonde doen!

Net soos iemand se liggaam 'n effek op die Gees het, het die Gees 'n effek op die liggaam. As ons glo, kan Jesus Sy Bloed gebruik om ons letterlik te “bedek”. En na die Opstanding, sal ons dan met Sy “blueprint” opstaan, vernuwe deur Sy Gees. Makie saak wat ons geëet of gedoen het aan ons liggame in ons leeftyd nie. Want vir God is als moontlik. Ons moet Hom net tyd gee om Sy Planne te voltrek.

Netso het God redes, waarop ek nie nou te veel wil ingaan nie, want dit raak te lank, met hoekom Hy diere offerandes in die begin wou hê. Dit het die mense voor Jesus gekom het, se gees, se DNA begin verander. Begin suiwer na die vloed en als wat na dit nog aan die gang was.

Ongelukkig het die Israeliete egter SO baie gesondig, dat hordes en hordes diere net heeltyd geslag moes word! Om as offerandes vir al die sondes te dien!

Tot God selfs later moedeloos verklaar het hoe MOEG Hy is vir al die diere offerandes! Dis net te veel en te erg gewees! Nie omdat dit Marduk se verhaal was in die Bybel soos mnr Pretorius dink nie.

Selfs God kan moedeloos word met mense se sondes en die alewige bloed verspilling wat dan nodig was! En dis hoekom Hy gaan toelaat dat Sy Kinders doodgemaak word aan die Einde van Tyd, want daardeur kan Hy ander volke en mense red. Maar dan kom Hy met groot woede terug om die wat die bloed verspil het, te straf.


Volgende bespreek ek 'n paar aanhalings wat mnr Pretorius gemaak het, hier.

No comments:

Post a Comment