Saturday, June 19, 2021

Mnr Pretoius se Roeping

Hierdie gaan ek ook slegs kortliks aanspreek. Mnr Pretorius het voorheen herhaaldelik beweer dat God hom geroep het, en hom as 'n wag op die muur aangestel het. Asook dat die Gees van die Almagtige God hom die insig en leiding gegee het om sy boek oor Siener van Rensburg te skryf.

Het die Lewend God, Skepper van die Hemel en die Aarde, hom geroep en as wag aangestel? Ek weet nie, niemand behalwe God kan dit antwoord nie.

Hier is mnr Pretorius se eie woorde nou in Augustus 2022 hieroor:

Nibiru se koms in my lewe in 2004 het egter ‘n totale verandering gebring...”
Ek kan egter in alle eerlikheid nie sê van waar of wie my roeping oor Siener en later die openbaring oor Nibiru gekom het nie. Ek vermoed dat dit Nibiru was...”

Indien hy as belydende Christen grootgeword het, soos dit vir my klink hy het, dan was hy wel deel van die Liggaam van Jesus. God kon hom wel geroep en gebruik het in die 90'er jare. Sy eerste boek sover ek weet, het in 2004 verskyn. Sy roeping om oor Siener se profesieë 'n boek te skryf, en die nuwe vlak wat God wou hê ons moes raaksien, kon dus wel van God af gekom het.

Hyself glo dit egter nie (meer) nie. En dit laat mens noodwendig wonder.

Hy stel dit duidelik dat sy roeping van OF Nibiru OF iewers anders gekom het. Hy besef dus eintlik self daar is 2 opsies, en hy ken dit persoonlik toe aan “Nibiru”. Hy sê dus nie dat sy roeping van "God Almagtig op Nibiru" af kom nie, maar erken dit kom OF van iewers anders, OF Nibiru. En die "iewers anders" het hy voorheen geglo, was van God Almagtig af. 

Sonder dat hy besef, het hy dus daardeur erken in sy diepste wese weet hy dat hy nou 'n ander god aanbid, as wat hy eers aanbid het. En nou ken hy al sy insig en roepinge toe aan hierdie "nuwe god", genaamd Nibiru. Oftewel, seker die “aliens” op Nibiru, seker nie die planeet self nie. 

Soos ek genoem het, kry baie New Agers ook sulke roepings en opdragte en woorde en inligting vanaf die “astral plane” deur seances, “channeling” en ander okkult praktyke en beweer dan dat die “aliens” met hulle gepraat het.

Ons weet dus nie of ons mnr Pretorius se boek nog enigsins kan vertrou nie. As God dit vir hom gegee het, dan kan ons. Maar ons gaan eers weet of dit wel van God af kom, wanneer die dinge afskop.

Indien (soos hy glo) dit van “Nibiru” afkomstig is, wil ek absoluut niks, maar niks daarmee te doen hê nie. En hy is self nie eers seker of dit van Nibiru of iewers anders vandaan kom nie!!

Dis vir my opvallend vreemd hoe mnr Pretorius herhaaldelik aan ons die versekering gegee het dat hy as wag op die muur aangestel is oor my mense. Hy glo dus daardie stukkie van die Bybel. So ons moet hom glo dat hy as wag aangestel is, en hy bewys dit deur 'n versie uit die einste Bybel wat hyself grotendeels nie meer vertrou of glo nie en aan ons probeer bewys het hoe "vals" dit is. Dis voorwaar vreemd en teëstrydig.

Boonop, as hy dit glo dat hy as wag aangestel is, moet hy tog besef, wanneer God 'n openbaring gee aan 'n “wag op die muur” is dit oor die GEVAAR daaraan betrokke. 

Sover het mnr Pretorius nog net aan ons verkoop hoe wonderlik Nibiru en die Annunaki is en eintlik ons Redder vir ons gaan bring. Dat God self saam met hulle op hul planeet verby kom, en dat ons ons goud met liefde in ons harte aan hulle moet oorhandig. Dis ons doel op aarde, beweer hy! 

Waar is die gevaar wat die versies in Ezekiel 33 noem? Wanneer 'n wag die gevaar sien aankom, moet hy die mense waarsku (tog TEEN die gevaar!) anders word hulle bloed van sy hande geëis. Ek sien geen waarskuwings vanaf mnr Pretorius, behalwe oor hoe vol leuens en bedrog en valshede die Bybel is nie! (Behalwe natuurlik die versies wat sy roeping bevestig.)  So hy kry 'n aansteling as wag, dan 'n waarskuwing om deur te gee. En hy gaan en waarsku die mense teen God, teen die Bybel, teen Sy Woord en teen Sy Seun. Hoe verskriklik! 

God het aan baie mense wat hy as wagte aangestel het, dieselfde openbaring dat daar 'n "Nibiru" gaan kom, gegee. Maar hulle het nie Stitchen se boeke gegryp en Joodse fabels begin glo nie. Hulle het gebid vir meer insig en inligting, en God het dit duidelik gemaak dat hierdie Nibiru-Alien storie is die Groot Afvalligheid wat kom, waarmee die Duiwel mense gaan mislei en laat wegval van God se Waarheid, die Bybel, af. So ons word al 10 jaar en langer gewaarsku deur die werklike wagte op die muur. Nie teen God en Sy Woord en Seun nie! Maar dat ons moet pasop en nie val vir hierdie leuens nie, dat dit gevaar vir ons spel.

Twee dinge ter afsluiting. Ek persoonlik glo dat mnr Pretorius wel sy oorspronklike roeping en insig vir sy eerste boek van God af gekry het. Dat sy werk tot 2004 dalk betroubaar of korrek KAN wees. Selfs moontlik is. Ek glo hy is soos 'n Saul wat aangestel was deur God, selfs "anointed" was, en toe val hy weg. En God stel 'n ander aan, in die plek van Saul. Ek wil dus nie mense oortuig om die hele eerste boek net weg te gooi nie, want ek glo God het insig daardeur aan ons gegee. Maar ek glo ook Hy het geweet sy wag op die muur gaan teen Hom draai. En daarom het Hy sekere inligting nog weerhou. Maak dus u eie gevolgtrekking, bid oor die saak. Persoonlik verwerp ek nie als voor 2004 van mnr Pretorius tans nie. 

Maar, wel als na 2004, gebaseer op hierdie laaste punt:

Ons lees in 1 Johannes 4:

Die vals profete
1 Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is.
2 Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 
3 En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.

Die Bybel sê dus vir ons dat die wat nie glo dat Jesus die Verlosser is wat mens geword het nie, nie die Gees het wat van God afkomstig is nie. Dis een manier hoe ons aangewys word om te weet of die persoon wat na ons toe kom, wel van God gehoor het. Tans kom mnr Pretorius dus nie na ons toe met die Gees van God nie. Inteendeel, hy het die gees van die antichris volgens hierdie stukkie. Want hy sê Jesus is nie die Verlosser (Christus) nie, hy is nie die Seun van God, of die Woord wat mens geword het nie, en hy bely dit nie van Jesus nie. Ons kan dus geensins enige iets meer van mnr Pretorius glo as Christene nie, of hom volg nie. Enige iemand met die gees van die Antichris, gaan ons slegs mislei!

Mag die Lewendige God, Skepper van die Heelal, mnr Pretorius se oë oopmaak vir Sy Waarheid. En mag God ons mense beskerm teen die leuens en misleiding en Groot Afvalligheid wat kom.

Goed, dis genoeg gebabbel. My pad skei nou finaal hier van mnr Pretorius s'n.

No comments:

Post a Comment