Monday, June 21, 2021

Aanhalings deur mnr Pretorius

Hier wil ek nou direk verdere sinne wat mnr Pretorius op sy blog geplaas het, aanspreek. Dis onmoontlik om als uit te lig, so ek het maar die wat my die meeste opgeval het, gekies.

Mnr Pretorius: “...wil ek dit stel dat niemand weet wie God Almagtig regtig is nie...Wat ek wel vir u kan sê is dat dit nie die God van die Bybel kan wees nie....”
En tog, dis presies wie God Almagtig regtig is. Mnr Pretorius glo en vertrou nie die Bybel, of die God van die Bybel nie. Maar ons wat doen, weet dat die Almagtige God, Skepper van Hemel en Aarde, een en dieselfde God is, soos Johannes 1 vir ons verduidelik.

Die vreemde ding is dat mnr Pretorius geleer het DAT daar 'n God "Almagtig" is, deur die einste Bybel. Die meerderheid van sy kerk, familie, skool en gemeenskap het waarskynlik dit geglo en dit so verkondig. UIT DIE BYBEL UIT. 

So hoekom nou vertel daardie einste Bybel was reg, daar IS 'n God Almagtig, maar ook verkeerd, dis nie die Bybel s'n nie? Dis werklikwaar ontsettend vreemd vir my.


Mnr Pretorius: “...En nee, sy naam is beslis ook nie Yahweh nie...”
Jip. Sy Naam is wel YHWH in Hebreeuse letters, wat beteken: “Ek is wat ek is”.
Ou Hebreeus het nie klinkers gehad nie. Later, toe dit bykom, het hulle YHWH begin uitspreek as Yahweh. Toe Jesus kom, het Hy waarskynlik heelwat tale verstaan en gebruik. Grieks, Aramees, Hebreeus, ens. Hy was in Grieks, Iesus genoem, maar in Hebreeus was die klanke waarskynlik meer Yahshua. Dit kom direk van YHWH af. YaHWshuaH.

My eie doopnaam word NIE dieselfde uitgespreek deur Engelse, as deur Afrikaners nie. Absoluut GEEN anderstalige kon nog OOIT my naam korrek uitspreek nie. Nie Engelse of Bantu's of die KhoiSan eers nie. Gewoonlik gee ek dus aan almal eerder my bynaam. Selfs dit spreek hulle vreemd uit. Mens kan dit nie lekker uitmaak nie.

Netso is die Naam “Ek is wat ek is”, of YHWH of Yahshua of Iesus deur baie mense in allerande tale gebruik. Later het die klank wat die Grieke gebruik het vir “Ie” 'n “J” geword. So toe die Bybel in ons taal vertaal is, het hulle by die klank gehou, en nie die spelling nie, soos die gebruik van daardie jare. God is nie 'n moeilike Persoon nie. Inteendeel, Hy is besonders tegemoetkomend, en het werklik nie omgegee nie, want alle tale was in elk geval Sy skepping as gevolg van die toring van Babel se gebeure. So of jy Hom Yeshua of Jesus of Yahwe noem, maak nie 'n verskil werklik nie. Dis 'n geval soos Paulus verduidelik het.... moenie die wat oortuig is dat iets sonde is, sleg sê nie. As hulle byvoorbeeld nie vark wil eet nie, los hulle. Maar weet dat dit nie sonde vir jou is nie. Mense kan daarop aandring dat God slegs YHWH genoem mag word. Maar Hy het direk aan my toestemming gegee dat ek Hom “Jesus” mag bly noem!

Bid dus en besluit self oor die Naam en wat u Hom wil noem. Maar om te verklaar soos mnr Pretorius, dat YHWH nie God se Naam is nie, is net verkeerd.


Mnr Pretorius: “....verstaan dat die wederkoms van die Verlosser van Nibiru af sal kom...”
LOL. Nee. Die teenoorgestelde.

Die “evil” in die wereld, onder leiding van Satan, beplan TWEE “beings”. Twee wesens, wat saam hulle “Messiah” uitmaak.

Die Bybel maak dit duidelik, dat die Koning kom om Vrede te bring en te verklaar aan die wereld, maar ook dat die Koning kom om die wereld met 'n ystervuis te regeer. Christene besef dat dit so in die Bybel gestel was, omdat God toe al geweet het, dit praat van 2 verskillende tydperke. Nie 2 wesens nie, maar 2 tydperke.

Die Elite het egter besluit (onder die Zioniste se aanvoering skat ek), dat dit eintlik beteken dis 2 wesens wat moet kom.

Die een kom om vrede en oorvloed en uitkoms van "slawerny" te verklaar, en is dus soortgelyk as 'n tipe Ben Joseph of Moshe (Moses). Die ander een kom as Koning en om oorlog te voer, en dus is hy van Ben David se essence. “Ben” beteken “Seun van”. Waarskynlik eers die oorlog, dan die "vrede" (en die Bybel waarsku ons, pasop vir die dag waarop hulle vrede aan ons verklaar!).

Die een gaan NES Farao Akhenaten lyk, wat mnr Pretorius (volgense my foutiewelik) glo was Moses van die Bybel gewees. Baie mense, ek ingesluit, het klaar drome en visioene gekry oor hierdie figuur. Wie dit is, en hoe hy werklik die bloedlyn van Akhenaten in sy DNA het. En daardeur “Royalty” gaan beweer.

Ons kan slegs bespiegel hoe als gaan verloop met hierdie Messias-planne van die Elite, of soos ons dit noem, die Antichris, vals profeet en Beeld van die Dier.

Wat dit met “Nibiru” en die “Annunaki” of “aliens” te doen het, sal ons nog moet sien. Wat ons weet is dat dit NIE ons Messias of Redder (Verlosser) is of bring nie. Hulle is NIE ons skeppers nie. Hulle is misleiers wat die mensdom gaan verblind met die wonderwerke en tekens wat hulle kan doen, en die leuens wat hulle gaan vertel.

Hulle gaan waarskynlik nes die Superwesens wees in ons flieks. En aan mense verkonding hulle, die gewone mense, kan ook “nes hulle skeppers” wees. En daardeur gaan mense die merk aanvaar. Die een waarteen ons gewaarsku word, dat dit 'n effek op ons siel gaan hê. Die wat die Antichris of sy beeld aanvaar as hul skepper, verloor hulle Ewige Lewe saam met die ware Almagtige God.

Punt is dus, ons verlosser kom NIE van Nibiru af nie! Wel ons “destroyer”!


Mnr Pretorius: “Die belangrike feit hier is dat ons Vader hierdie Verlosser sal wees en nie Jesus nie.”
Sjoe. Waar om te begin.

Ja, dit KAN en GAAN Jesus wees, want Hy het so gesê. Maar. Die Vader en Seun is Een. Die Vader is Gees. Jesus was beide mensekind en Goddelike Seun. Hy het 'n aardse liggaam gehad. Wat deur Sy Opstanding in 'n Ewige Liggaam verander is. En dis Hy wat gaan terugkom, het die Engel aan ons verklaar. En wanneer Hy kom, gaan die hele aarde skud en bewe, en elke liewe persoon gaan op sy knieë val. En die wêreld gaan treur.

Die vreemde ding is, ek onthou lank terug het mnr Pretorius beweer dat eers kom Jesus terug, dan is dit die 1000 jaar Vrede, daarna eers kom die Vader. Ek onthou hoe vreemd ek hierdie konsep gevind het. Nou beweer hy dat Jesus glad nie meer gaan kom nie, maar net die Vader. En dit nie meer aan die einde nie, maar in die begin van die 1000 jaar, en boonop in 'n UFO vanaf die planeet Nibiru! Jesus het sommer net self opgevaar op die wolke, maar die Vader moet 'n ruimteskip gebruik om af te kom..
..


Mnr Pretorius: “Dit kan nie Jesus wees nie, want hy was nooit meer as ‘n menslike koning wat deel was van ‘n koninklike bloedlyn wat deur die Anunnaki geskep is om as ‘n buffer tussen hulle en die massas te kon dien nie. Hy was dus die mense op voetsoolvlak se meerdere, omdat hy Anunnaki DNA gedra het, maar darem nog steeds ook die Anunnaki koninklikes se mindere....”
Jesus was definitief baie meer as slegs “'n menslike koning”. Boonop was die Dawidiese bloedlyn uit Shem deur sy seun Arpaksad. Terwyl die Annunaki bloedlyn waarskynlik uit die lyn van Asshur (Assirie) kom van Shem. Nie deur Arpaksad nie.
Ek glo die Bybel wat betref Jesus. Mnr Pretorius glo eerder die Joodse skrywer Zacharia Stitchen.

Zacharia Stitchen was 'n amateur, wat homself Summeries geleer het, en toe tablette vertaal het en aannames gemaak het oor wat dit beteken. Hy was nie 'n opgeleide profesionele taalkundige daarin, of in daardie tydperk nie. Hordes mense het dus intussen bewys hoeveel foute hierdie man gemaak het. Nie slegs Christene nie, maar oorwegend Akademici en kundiges van reg oor die wereld. Daar is heelwat inligting beskikbaar op Youtube, wat Zacharia Stitchen se boeke afmaak en “debunk” as basies nonsens of swak vertalings wat nie die toets van tyd of “scrutiny” deurstaan nie. 

Om dus die Bybel te verwerp en so 'n persoon aan te hang gaan my verstand totaal en al te bowe. Dis egter mnr Pretorius se reg. Maar dis ook my reg om aan my mense uit te wys hoekom hulle versigtig moet wees om enige iets wat deur die Zacharia Stitchen beweer is, as net die waarheid te glo en te aanvaar. Soos hierdie hele idee dat die “Annunaki was aliens wat die mensdom deur kloning geskep het.”

Wikipedia is nie aldag meer betroubaar nie, maar hier is 'n stelling wat wel korrek is, oor die skrywer Zacharia Stitchen:

Sitchin's ideas have been resoundingly rejected by scientists, academics, historians (including Sumerologists, Orientalists and Assyriologists) and anthropologists who dismiss his work as pseudoscience and pseudohistory. His work has been criticized for flawed methodology, ignoring archaeological and historical evidence, and mistranslations of ancient texts as well as for incorrect astronomical and scientific claims.
Ek verwerp hom dus as 'n kenner, wat nog te sê iemand wie se idees bo die Bybel geglo moet word!

Ter interessantheid, kom ek verduidelik hoe maklik foute kan insluip wanneer daar met antieke tale gewerk word. Die Summeriese tablette praat van hoe sekere van hul konings sommer vir 250 000 jaar regeer het. Uit ander bronne (nie slegs die Bybel) weet ons dit is onwaar. Wanneer dit bestudeer word, blyk dit dat verskeie tydperke as 'n “jaar” gesien was deur verskillende groepe van daardie antieke tye. Byvoorbeeld, een groep het 'n siklus van die maan as 'n “jaar” beskryf. Ander het 'n seisoensverandering as 'n nuwe jaar beskou. Ander het die “groei” van die maan (dus 2 weke) as 'n jaar gesien. Ens. So ons kan nie net aanneem 250 000 Summeriese jare op 'n klip tablet, is werklik 250 000 van ons jare van vandag nie!

Hulle het dus beweer hulle konings was “immortal”. Uhm. Nee. Hoewel soos ek bespreek het, weet ons ook uit die Bybel dat daar wel 'n tydperk was waar mense na die Vloed nog vir honderde jare lank geleef het, en onsterfbaar kon voorkom. Maar die Summeriese mense het waarskynlik afgestam uit Shem se een seun, wat Asshur of Assyria genoem was, en afbeweeg het uit Syria uit na die Suidelike dele van Iraq.


Mnr Pretorius: “….en ons lees dat hy (“Jesus”) dood is aan die kruis. Hy is nie, want daar is gesaghebbende inligting wat aandui dat hy lewend afgehaal is en eers jare later oorlede is....”
Die snaakse ding is dat dit JUIS die Romeine was wat hierdie valse storie dat Hy NIE gesterf het nie, versprei het, saam met daardie dae se Joodse families. Ek beskou die Bybel as “gesagshebbend”. Mnr Pretorius beskou ander bronne blykbaar as gesagshebbend. Netsoos hierbo gesien, soos die Joodse skrywer Zacharia Stitchin.


Mnr Pretorius: ”Daar word op verskeie plekke VAN Jesus gesê dat hy die Seun van God is, iets soos 60 van hulle dink ek, maar hy self het dit nooit gesê nie. En toe hy daaroor uitgevra is, en baie hard van hoog af vir ‘n spesifieke antwoord gedruk is, het hy dit soos volg ontken:

MAT 26:63 Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?

MAT 26:64 Jesus antwoord hom: U het dit gesê.”

Dit kan as bevestigend gesien word. U het dit gesê, u praat die waarheid, u is reg. Hoekom mnr Pretorius dink dit het beteken U het dit gesê... nie ek nie. Dit sal ek nie weet nie. Hoe kan hy dit sommer net aanneem en dit as "bewys" voorhou?

Ek gaan dit ook met 'n teenskrif beantwoord.

Ons lees in Johannes 8:24

Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.”

In Engels:
I said therefore unto you, that ye shall die in your sins: for if ye believe not that I am he, ye shall die in your sins.

Jesus sê dat as hulle nie glo “I AM he”, of “Ek is wat ek is “ nie, gaan hulle in hul sonde sterf. Die mense het onmiddelik besef dat Hy (Jesus) beweer het Hy is YHWH, wat volgens hul gebruike godslasterlik was! En DAAROM wou hulle Hom toe ook doodmaak.

Dus, anders as wat mnr Pretorius beweer, het Jesus WEL aan die mense erken Hy is YHWH. Mens moet egter na die Hebreeuse en Griekse geskrifte en betekenisse kyk om te sien waarop Jesus gesinspeel het, en hoekom die mense onmiddellik besef het wie Jesus beweer Hy is. En waarom Hy gese het Hy kom in Sy Vader se Naam. Want God is Gees, Jesus was die aardse liggaam!

En die rede hoekom Jesus dus nooit self gese het Hy is die Seun van God nie, is omdat Hy YHWH is! 
Hy kom in Sy Vader se naam. Hy is dus God se Seun. Maar almal in Hom, is wel ook Kinders van God. So Hy is die Vader, die Seun en die Gees. Die hele Almagtige God. Iets wat ons menslike breine sukkel om te verstaan, maar Hy het die konsep op die maklikste moontlike manier vir ons kom demonstreer. Siel, liggaam en gees. Drie-enig. Als in een. EEN God, genaamd YHWH (Ek is wat ek is). Die Seun, die Ligaaam, is die aardse beeld van God gewees met die “blueprint”, die essence, die DNA van die Vader. Die aardse beeld van die Hemelse Vader. As voorbeeld vir ons. Hy is dus die Weg. Hy het dit kom aandui. Self, persoonlik. 

Jesus het as 'n kind van die mens gekom en gewys hoe ons moet leef en glo, en selfs hoe ons van en oor ons Vader in die Hemel moet praat. Terwyl Hy 'n mens was, was Hy ook “Son of Man”. Nou is ons ook nog “Sons of Man”. Seuns van Adam. Nakomelinge van Adam.

Toe Hy gesterf het en deur die Gees opgewek is, was Hy en is Hy ook nou die Seun van God. Want ons moet in Sy voetstappe volg. Wanneer ons sterf, en opgewek word (die wat Sy Gees het), sal ons ook soos Jesus wees. Of deur die dood, of deur Sy terugkoms. Die wat Sy Gees ontvang het, wat Sy DNA as blueprint vanaf die Gees ontvang het, sal daardeur as 'n “nuwe mens” gemaak wees. Met 'n Ewige Liggaam. Hy is dus YHWH, wat die Vader, die Seun en die Gees is. 

Ek stem dus glad nie saam met mnr Pretorius se idees van hoe die Romeinse kerk vir ons gelieg het dat Jesus die Seun van God is nie. O, hulle het vir ons oor BAIE dinge gejok. Maar nie daaroor nie. Want ek glo die Bybel, en nie Roomse of Joodse “fabels” of mense of kerke nie.

En dis die Bybel wat dit eerstens verklaar het, nie die kerk nie:

1 Johannes 5
Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is.


Mnr Pretorius: “Jesus was deel van die Essene gemeenskap van Qumran en hulle was wat ons as spiritual mystics kan beskryf.”
Nee, die mense om Hom, was deel van die Essene Gemeenskap. Daar is geen definitiewe bewys dat Sy familie, of spesifiek Hy self, ook deel daarvan was nie. Baie mense baseer hulle gnostiese gelowe op hierdie tipe (valse) aannames. Dis hoekom Christene nie die buite Bybelse geskrifte van daardie tye as onfeilbaar beskou nie, maar slegs die Woord as onfeilbaar. Christene glo die Woord is die enigste onfeilbare, ware bron.


Mnr Pretorius: “Daar kon onmoontlik twee rowers weerskante van hom gekruisig gewees het, want sulke mense is op ander, minder dramatiese maniere doodgemaak.”
So in plaas van om die Bybel te glo, glo mnr Pretorius dit kon “onmoontlik nie” so gewees het nie, want..... Die rede is so vaag, dat geen akademikus dit ooit as 'n rede sou kon aanvaar nie. Hoekom hy dus dink ons moet dit as “bewys” aanvaar van hoe “onmoontlik” dit dus is dat die Bybel reg kon wees nie.... sjoe.

Ons is nie desperaat om die Bybel verkeerd te bewys nie! Ons is ook nie angstig om die Bybel as korrek te bewys nie, want God het gesê aan die Einde van Tyd, sal als geopenbaar word. Dan sal die Waarheid staan. Geloof is om te hoop op dit wat ons (nog) nie kan sien (of bewys) nie.

'n Trend wat duidelik na vore kom, is dat waar die buite Bybelse geskrifte die Bybel korrek bewys, verwerp mnr Pretorius dit as Romeinse inmenging. Waar die buite Bybelse tablette of geskrifte die Bybel as “verkeerd” bewys, glo mnr Pretorius die geskrifte amper lyk dit, onvoorwaardelik. Dan was daar geen “inmenging” nie.


Mnr Pretorius: “Dit was dus die Satan wat ‘n tydelike oorwinning oor God behaal het!”
En nog steeds verstaan mnr Pretorius geheel en al glad nie die Bybel of Jesus se Evangelie nie. Nee, Jesus het werklik deur Sy kruisiging, die oorwinning behaal, want hierdeur het Hy volgens Joodse wette die reg verkry om namens enige iemand wat glo in Hom (en Sy offer aanvaar vir hul sondes) hulle te red, verander deur die gees, en te lei op die aarde. Sien dit amper soos “borgtog staan”, in ons wette van vandag. Een persoon mag 'n ander help om sy skuld te betaal. Jesus het ons skuld betaal, vir die wat dit aanneem en glo. Hy het ook ander dinge “ontsluit” in die gees en die liggaam deur te sterf en daarna op te staan, maar dis onnodig om te diep nou daarop in te gaan.


Mnr Pretorius: “Farao Akhenaten, of Moses soos ons hom ken, het gesê dat die ware God op ‘n ster woon met die naam Aten en dat Hy alleen aanbid moet word.....Daar is net een planeet wat op enige wyse hiervoor kon kwalifiseer en dit was Nibiru. Dit beteken, met ander woorde, dat die God wat hulle moes aanbid op Nibiru gewoon het.”

Eerstens, Akhenaten was nie Moses nie! Daar is 'n groepie mense wat dit glo, maar meer wat die teendeel al bewys het.

Tweedens, die ou voorvaders van daardie tyd, het sterre aan al hul helde en stadsvaders en gode toegeken. Dit beteken nie die persoon bly werklik daar nie! Daar is wel 'n skakel, tussen die geboortes van mense en die geboortes van nuwe planete. So dit kan wel wees dat elke persoon van sekere bloedlyne, 'n “ster” het wat hulle s'n is vanaf geboorte. Ek glo dis die sterre wat gaan val. Mense wat sterre gehad het, maar deur die draak se stert verslaan word. Joseph het gedroom dis Jakob se bloedlyn wat almal “sterre” is, volgens die Bybel.

Die Antichris gaan 'n god aanbid wat ons “voorvaders nie geken het nie”, volgens Daniel. En die Antichris het ons deur die profete gehoor, is 'n Akhenaten afstammeling, wat geglo het dat die “god wat hulle moes aanbid op 'n ster met die naam Aten woon”. Klink vir my of die Afvalligheid al van daardie dae af aankom!



Mnr Pretorius: “Nasaret het (nog) nie bestaan in Jesus se tyd nie. Hulle het ‘n profesie in die Ou Testament tot hul voordeel probeer vervals hiermee.”
Daar was twee dorpies met die naam Nasaret. Een wat later en meer Suid begin is, en een wat vroëer en meer Noord geleë was.

Ek kan nie help om te wonder wat mnr Pretorius enigsins nog uit die Nuwe Testament glo nie?
  • Hy glo nie die Evangelies nie, want hy sê dis “Paul se evangelies”.
  • Hy glo nie dat Jesus gesterf het aan die kruis nie, of dat Hy gaan terug kom nie.
  • Hy glo nie Paulus se briewe en boeke nie.
  • Hy glo nie wat oor Petrus geskryf is nie.
  • En hy glo die Roomse kerk het boonop 'n handjie gehad in die boek Openbaring.

Wat bly enigsins oor wat hom 'n Christen sou maak? Ek sou hom van die Joodse geloof kon beskuldig het, maar hy glo amper net so min van die Boeke van Genesis en Levitikus, en selfs nie veel meer van Jesaja nie.


Mnr Pretorius: “Petrus was volgens die Roomse kerk die eerste Pous van die kerk gewees, maar hoe kan dit wees, want daardie kerk is dan eers meer as 250 jaar later gestig!”
LOL. Dit was nie dieselfde Petrus nie!!! Die “Petrus” van die Roomse kerk, kom van die woord Pater af, wat Vader beteken het. ;-)


Mnr Pretorius: “Hulle sê egter in dieselfde asem ook hy is op sy versoek onderstebo in Rome gekruisig. Dit is weereens ‘n leuen, want hy was nie ‘n fisiese rebel nie en niemand weet regtig wat van hom geword het nie. As hy ‘n rebel was sou hy saam met Jesus gekruisig gewees het, en hy is nie. Sy rol word in elk geval heeltemal oorspeel in die Bybel, want hy was nie naastenby so belangrik as wat ons daar lees nie. Die ware dissipels was almal hoog aangeskrewe senior priesters in die Essene gemeenskap en Petrus was nie deel van hierdie uitgelese groep nie.”

Wow. Soveel gif teenoor die arme Petrus. Wat reeds beweer het hy is NIE so belangrik nie. Nou word hy aangevat oor hy nie so belangrik was nie. Ai. Wat het die arme Petrus verkeerd gedoen? ;-)

En om te sê iets soos sy onderstebo kruisiging is 'n leuen, want “niemand weet regtig wat van hom geword het nie”.... is weer soos die redenasie oor hoekom die Bybel jok oor die 2 boewe weerskante van Jesus. Dit staaf geensins die idee dat Petrus dus 'n leuenaar of iets was nie, of dat daar oor hom gejok is in die Bybel nie!

Die stukkie: “as hy 'n rebel was sou hy saam met Jesus gekruisig gewees het”. 

Wow. Weereens, wanneer buite Bybelse boeke ooreenstem met die Bybel, verwerp mnr Pretorius beide. Wanneer dit verskil van die Bybel, word die buite Bybelse boek geglo. Die arme Bybel word telkemale net verwerp as leuens en bedrog. Hoe hartseer!

Ek is nie eintlik seker of mnr Pretorius dink Petrus was nou eintlik rebels oor hy nie so rebels was nie? En of hy nie rebels was nie, want hy was nie (gou) genoeg rebels om saam met Jesus te sterf nie? :-D

Ek persoonlik dink ook dat mnr Pretorius heeltemal te veel waarde heg aan “hoog aangeskrewe en uitgelese” groepe. Tyd het bewys dat Elites en Koninklike bloedlyne toe nou nie so hoog aangeskryf moet word nie. ;-)

Wat opvallend is uit hierdie gal braak teenoor Petrus, is die eerbiedige manier waarmee daar dwarsdeur van die Annunaki gepraat word, maar met soveel griewing en nydigheid van Bybelse karakters, en veral die Hoofkarakter. Dit is dus baie, baie duidelik wie mnr Pretorius eerder aanhang, glo en volg.


Mnr Pretorius: “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, ….... sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid...hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense....”

Dit is met ander woorde niks anders as ‘n baie groot ruimteskip nie, en ‘n mens het nogal baie verbeelding nodig om te wil aanvaar dat hierdie bloot aan die misterie van God toegeskryf kan word! So ‘n vaartuig, wat kan neerdaal soos ‘n helikopter, kan nét van ‘n ander planeet in ons sonnestelsel af kom en nêrens anders nie!

Ek dink dis hier waar ek werklik hardop uitgebars het van die lag, en besef het ek moenie hierdie man so ernstig opneem nie. ;-) Meeste van ons behoudende Afrikaners, wat almal Bybel-gelowige volgelinge van Jesus Christus is, sal reg deur al die strooi kyk.

Nuwe Jerusalem is nie 'n ruimteskip nie! Dis Jesus se Bruid.... mense. Die woord Hemel het verskeie betekenisse in die Bybel. Netsoos wat die woord “Aarde” verwys het na die “planeet” op party plekke, na die “vasteland” op ander, en selfs na die “baarmoeder” of “liggaam” in ander weer!

In hierdie geval gaan Nuwe Jerusalem die groep mense op Aarde wees wat die Gees gaan kry net soos die Apostels in die bo-kamer in Handelinge ontvang het. :-) Want God gaan by Sy mense kom bly, en Sy stad is 'n stad van Lewendige Klippe, waarvan Jesus die hoeksteen is. Die eerste steen.

Is dit nie interessant, dat mense soos mnr Pretorius wat die Bybel ontsettend kritiseer, tog nog steeds stukke daarvan wil gebruik om hul eie geloof te "regverdig". So hy glo Nuwe Jerusalem gaan uit die Hemel kom, wat in die Bybel staan. Maar hy glo nie dat Jesus die Seun van God is nie, wat nie net in die Bybel staan nie, maar die tema van die hele Nuwe Testament is, asook die geloof was van die skrywer van Openbaring, waarin die stukkie van Nuwe Jerusalem staan nie. O, die ironie!

My voorlaaste artikel is kort inligting oor die 2 Nuwe Wêreld Ordes.

No comments:

Post a Comment