Thursday, June 24, 2021

Hoekom die voorvader “gode” en mitologiese gode stories? Noag se vloed, reuse en supermagte.

 
Ek het besluit om hierdie stukkie in te sluit, sodat mense dalk beter kan verstaan hoe dinge moontlik kon verloop het. Waar al die “gode” aanbidding ingekom het.
Eerstens.... hierdie stukkie is my afleidings, aannames en opinies, dus nie noodwendig die waarheid nie. Dis meer 'n storie, 'n moontlikheid, oor die dae voor die Vloed.

Ek glo dat die aarde wat tans getilt is, tydens Adam se tyd op aarde nie getilt was nie. Die aarde was ook kleiner, minder water, meer 'n soliede aarde soos die Pangea teorie aandui.

Die atmosfeer rondom die aarde was dik, meer solied, ondeurdringbaar. Dit het die aarde amper soos 'n “kweekhuis” gemaak. Waar als oorlaai was met warmte, hitte en suurstof. Drukkend. Dit het gelei tot liggame wat baie, baie groter was, as gevolg van die hoër suurstofinhoud rondom hulle, en die geweldige "druk". Longe was massief, ens. Mens en dier was groot. Baie groter as vandag. Aanduidings is selfs dat die heel eerste paar geslagte van mense dalk selfs so groot soos berge was. Later was hul heelwat kleiner, maar dit het nie oornag gebeur nie!

Dink net as daar 'n geslag was wat so groot soos berge was. Die volgende geslag was so groot soos klein berge en later slegs heuwels. Die volgende geslag so groot soos torings. Die volgende geslag so groot soos verdieping-huise. Dan 'n geslag so hoog soos huise. En 'n geslag van 3m, dan 2m. Wie sal die “gode” wees en wie sal die “plebs” wees? Wie sal die sterkste wees? Wie sal wie vrees en als doen om net nie so 'n massiewe persoon kwaad te maak nie?

Hierdie kweekhuis-effek het mense ook gesond gehou in die begin, en aan hulle baie, baie lang lewens gegee. Daarom dat ons praat van “so oud soos die berge”. Dis die oudstes op aarde. En ook die dat hulle tot amper 'n duisend jaar oud geword het!

So dink net as daar absoluut massiewe mense was wat die langste geleef het. En baie kleiner mense, wat slegs 'n paar honderd jaar geleef het. Almal gelyktydig op dieselfde aarde vir 1500 jaar lank. Sou die wat so groot soos “berge” en “heuwels” was begrawe geword het? Of het hulle maar net bly lê waar hulle geval het? Soos in hierdie video. Die Youtube kanaal "Mudfossil University" is ook geweldig interessant. 

Natuurlik is van dit ge”fotoshop”. Maar dis werklik dat daar berge in die vorms van mense orals oor die aarde is. Dat reuse se beendere ontdek is. Dat dinosourus beendere werklik bestaan. ALS was groter. Die mense, die diere en die plante en bome! 

Vir die wat wonder.... die mudfossil university professor toon aan hoe "dating" beinvloed kan word indien die fossiel baie skielik onder sekere omstandighede deur modderwater oorval en versteen was. So die wetenskap van "dating", om te bepaal hoe oud dinosourus beendere is, is heel waarskynik nie akkuraat genoeg nie.

So mense en diere van ontsettende groottes het waarskynlik saam op die aarde gewoon, in die tyd van Adam. Maar toe het als verander. Dit het dalk al na die val van Adam en Eva begin. Miskien was dit 'n tydelike agteruitgang wat baie, baie stadig begin het, en spoed opgetel het na Adam se dood. Volgens aanduidings was die 500 jare van Noag se geboorte af vol sonde en teëspoed vir die mensdom.

Ek glo die aarde het begin tilt en die atmosfeer het verdun.

Dit het egter tyd geneem vir die kweekhuiseffekte om te verminder. Miskien het dit begin in Adam se dae, of dalk 'n paar geslagte later, en die volle laaste dramatiese effekte tydens die Vloed se tyd.

Atmosferiese gasse het uit die dik laag om die aarde begin ontsnap, verdunning het plaasgevind, en skadelike sonstrale het begin deursyfer. Kankers en siektes en ander probleme het begin opduik. Terselfdertyd is mense se gene met hul bloedskandelike gedrag en kannibalistiese gewoontes verswak en defekte en probleme het opgeduik.

Voila! Mense leef toe nie meer 'n duisend jaar nie!

Eers het dit waarskynlik stadig verminder. 900 jaar, 800 jaar, 777 jaar soos Lamech. So voor die vloed, was mense soos “gode”. Hulle het so lank geleef, hulle was as “immortal” gesien. Maar rondom hulle, geslagte wat na hulle gekom het, is mense gebore wat korter geleef het, en dus as “mindere wesens” dalk gesien was. So mense wat 900 jaar oud was, het geleef saam met mense wat as 700-jariges gesterf het. Die oudstes was waarskynlik as die “immortals” gesien.

Toe gebeur die groot Vloed, water het ingestroom, opgedruk van onder af, die tektoniese plate het uitmekaar gebeek, ens. Hierdie proses het tot met die geboorte van Peleg nog aangehou gebeur (sowat 200 jaar na die Vloed). Groot veranderinge op die aarde self. Dalk het dit die tilt vinniger, erger gemaak. Dalk het skielik nog meer atmosfeer ontsnap rondom die aarde. En skielik leef die “gode” toe nie meer so lank nie!

Party sterf toe rondom 500 jaar al! Na die vloed. Dis maar 'n halwe leeftyd. En die kinders was dalk verstom en vra... wat gaan aan?

Toe sterf mense rondom 400 jaar, en die kinders raak dalk paniekerig en probeer dit keer. Hoe? Deur die presiese praktyke wat tot die probleme gelei het! Bloedskande. Kom ons “bewaar die bloedlyne” (van die oudstes).

En die maniese pogings van mense om langer te bly leef, begin....

Tog het dit nie gehelp nie, mense het toe slegs 200 jaar of minder geleef. Daarna, rondom die tyd van Josef in Egipte, slegs 110 jaar. En vandag is ons af na 70-80 jaar, as ons “gelukkig” is. Nes die Bybel sê.

In die begin glo ek, het die wat 500 jaar geleef het na die vloed, dus weer uitgestaan as die “immortals”. Die “titans” van ouds. So party het lank genoeg geleef om te sien hoe stede gebou en vernietig word, agterkleinkinders sterf, lande se grense verander, vulkane uitbars en weer slaap, woude opskiet en vergaan, nasies sien vorm en verdwyn, ens.

Dis moeilik vir ons om ons dit in te dink. Maar verbeel jou daar is mense wat 370 jaar terug gebore was toe Jan van Riebeeck geland het en tot vandag toe nog leef. Wat ALS beleef het in die hele leeftyd van die Afrikaner-nasie. Sal van ons mense vandag nie dink hulle is “immortal”, of onsterflik nie? Sou hulle nie baie maklik as “gode” aangesien en aanbid word nie? Dis darem 'n verskriklike lang tyd om te leef. En dis maar helfte of 'n derde van die mense voor die vloed se tyd!

Miskien het sulke mense van een area na 'n ander getrek en nuwe stede gebou. Hulle was selfs dalk fisies nog baie groter as die wat na hulle gebore is. Soos die atmosferiese gasse aanhou ontsnap rondom die aarde, verdwyn die kweekhuis effek al meer, en elke geslag word dalk effe kleiner as die vorige gebore. 

Dus kon hulle mense met vrees beheer om die werk vir hulle te doen. Hulle het dalk in een land bekend gestaan onder een naam, en na 50 jaar was hul verveeld en het na 'n ander land of area getrek, 'n nuwe stad gebou en onder 'n nuwe naam bekend gestaan. Wat maak mens as jy 300 of 400 jaar het om te leef, en daar is nie internet nie?! ;-)

Atmosferiese druk is tans baie, baie laag. Groot gate is in die osoonlaag. Sonstrale is dodelik en gevaarlik. Kankers en siektes en defekte volop. Want mense het hul lewens probeer behou. Presies waarteen Jesus gewaarsku het. Die wat hul lewens gaan probeer behou (langer leef, “immortal” wees) gaan sterf.

Soos gewoonlik, was Jesus se waarskuwings nie omdat Hy 'n oordeel uitspreek nie, maar omdat ons pogings in onkunde plaasvind en tot die verkeerde uitkomste lei! Hy het die “groter prentjie”, as ons Hom net glo en volg, sal als die beste vir ons uitwerk.

'n Laaste punt. Onthou! Hierdie is net “aannames” en ek het geen bewyse vir hierdie deel nie.

Ek dink daar was nog iets wat gebeur het voor die vloed. Mense het “superpowers” gehad. Ek dink, party kinders is gebore met 'n 6de sintuig, of vermoë. Party kon telepaties praat. Ander kon telekinese beoefen. Ander was empaties of profeties of psigies. Ander kon teleporteer. Ens. Dis waarom al hierdie “stories” al vir 5000+ jaar “persist”. Dis MY raaiskoot. Dat sulke talente werklik bestaan het, en dit veral in families voorgekom het. En dat dit nogsteeds in ons DNA lê, die vermoë tot “supermagte” of bonatuurlike magte. Dat die Elite van die wêreld baie hard probeer het die afgelope 50 jaar om hierdie magte in hul bloedlyne te ontdek, te versterk, te “trigger” of aan te skakel.

En net soos vandag se elite, het die mense voor die vloed hierdie “supermagte” probeer behou en versterk in sekere bloedlyne. Byvoorbeeld deurdat 'n telepaat met 'n telepaat getrou het, want dan is die kans goed gewees vir 'n kind met dieselfde telepatiese magte. Netso al die ander moontlike magte en talente.

Die nadeel is, hulle het toe later die “familie-kenmerke” probeer behou, deur boeties en sussies met mekaar te laat trou. Nie net vir langer lewens nie, maar om die “bloedlyn” suiwer te hou, en die magte en talente te konsertreer. Later was daar dalk families wat kinders gehad het met meer as een talent, of al die talente, of genoeg om uit te staan as 'n “magtige” familie.

Ongelukkig het hierdie ondertrouery soos reeds genoem, waarskynlik ook tot liggaamsdefekte gelei. Teen die tyd van Tutenkamen onder die Egiptiese faraos, kon hy en sy sussie amper glad nie meer kinders hê nie, net die een miskraam na die ander, en hyself het geboorte defekte gehad en is as jong man toe ook dood.

So dit konsentreer die “talente”, maar ook die “defekte”. En in plaas van tot langer lewens lei, lei dit mettertyd slegs tot korter lewens vir die uiteindelike nageslagte.

In die begin, kort na die vloed, toe die mense nog so 400-500 jaar geleef het, het van hierdie mense dalk nog van hierdie “supermagte” gehad. Van hulle kon dalk nog steeds baie sterk wees soos Hercules, of “immortal” voorkom, of weerlig beheer soos Zeus, of psigies wees of selfs teleporteer. Ons weet nie.

Maar dit kan dalk die stories, die mitologie, die afgodery van daardie tye verduidelik. Want die met die meeste mag en talente en wat die langste leef, sou wel soos “gode” aan die ander kon voorkom. Aanbid mense nie maar vandag die met die mooiste gesigte en stemme in Hollywood nie? Die met die talente is “sterre” of “gode”. 

Dink net hoe ons sou voel oor iemand wat fisies dubbel ons grootte is, en dubbel of trippel die ouderdom van die oudstes in ons stad is, en boonop kan hy teleporteer! Natuurlik sal mense hulle as “gode” beskou het. Veral as hulle boonop dalk selfs mooi was, soos dit blyk van die “godinne” veral was.

Wanneer die “aliens” kom, glo ek, gaan hulle en sommige van hul aanhangers, ook hierdie “supermagte” hê. Omdat van hulle bloedlyne het dit in die geheim gekweek en bevorder met genetiese manipulasie en die “aanskakel” en “afskakel” van sekere gene. Hulle gaan mooi en magtig wees. En hulle gaan die mensdom mislei, en dalk selfs “beloon” met dieselfde moontlikhede. So mense gaan dalk in toue staan om sulke “supermagte” te kry, dink ek. Of te kyk of dit in hulle DNA ook is. Deur een of ander “middel” te neem. Maar wat gaan die prys wees wat jy daarvoor gaan moet betaal? Om soos die “elohym” te wees? Is dit nie wat Satan vir Eva belowe het nie? Sy sal soos die “Elohym” wees....

Wees dus gewaarsku. Wees op jul hoede. Ons weet nie wat voor die vloed gebeur het nie. Ons weet nie wat oor die aarde gaan kom nie. Ons weet nie wie of wat die reuse was nie. Ons weet nie wie of wat Satan se Engele is nie. Ons weet nie wie of wat die “aliens” presies gaan wees, doen of sê nie. Maar die Bybel waarsku ons dat selfs die uitverkorenes sou mislei kon word! AL hoe jy dit gaan kan verhoed, is deur die Waarheid lief te hê. En die Waarheid is die Woord, Jesus Christus. Dan sal Hy jou deur al die misleiding lei tot aan die ander kant. Veilig in Sy Koninkryk in. Niemand gaan sonder die Seun in die Koninkryk ingaan nie.


Volgende: gou net 'n opsomming.

No comments:

Post a Comment